Terugvoer: 15 Okt - Spesiale Gebedsdag (Solemn assembly) en verdere gebedspunte
Die spesiale
gebedsdag gehou op 15 Oktober 2008 was ‘n baie besondere geleentheid. Daar was
sowat 650 leiers en verteenwoordigers uit elk van die 15 etniese groepe in Suid
Afrika.
Soos wat die dag verloop het, het ek besef dat ons presies doen wat in 2 Kron. 7:14 staan:
· Verootmoedig (verneder) julle
· Bid
· Soek My aangesig
· Draai weg van julle bose weë
Dit het ons die betrokke dag van 09:00 tot 17:00 gedoen. Ons het beleef dat die Here daar teenwoordig was. Die enigste woorde wat ek daarvoor het, is dat dit ‘n ‘God-dag' was. Ons glo, omdat ons aan die Bybelse voorskrifte van 2 Kron.7:14 gehoor gegee het, dat God sal kom en ons land sal genees - op Sy tyd en Sy manier.
Ons wil nie aanspraak maak op bereiking van indrukwekkende doelwitte nie. Ons was nie die enigste mense wat gebid het op 15 Oktober nie. Mense bid reeds baie jare vir ons land en hulle sal voortgaan om dit te doen. Ons wil juis mense regoor die land aanmoedig om nou meer as ooit in te tree. Ons het wel beleef dat dit ‘n dag was met ingrypende betekenis en waarde. Ons vertrou dat hierdie geleentheid, tesame met vele ander inisiatiewe van Christene in Suid Afrika, sal meebring dat ons sal terugdraai na God, met die Kerk wat die inisiatief neem.
Hieronder is riglyne om aksiestappe in die rigting te neem. Jy kan punte daaruit kies en daarop fokus om dit praktyk in jou persoonlike lewe te maak en ook ander aanmoedig om dieselfde te doen. Sal u asseblief hierdie riglyne met soveel moontlik mense deel?
Ef. 3:20
Bennie Mostert
+27-12-3653213 (office)www.jwipn.com
ROEP DIE LAND OP
· Vir herlewing in die Kerk
· Vir die hervorming van die Kerk
· Vir die herstel van die land
Na ‘n tyd in Augustus 2008 waarin God se aangesig gesoek is, het hierdie oproep uitgegaan vanaf meer as 30 verskillende bedienings en gebedsnetwerke in Suid Afrika...
Om gemeenskappe, kerke en individue te mobiliseer om voor God te staan
Mobiliseer die Kerk om vir die land te bid
Dat mense uit alle vlakke van die samelewing aan hierdie oproep tot gebed sal deelneem:
• Werksplek: Menigvuldige gebedsgroepe in die werksplek - dat elke Christen in die werksplek ‘n gebedsgroep in hul invloed-sfeer sal begin of by een sal aansluit.
• 3 Ongereddes: Dat elke Christen vir ten minste 3 ongeredde individue wat hulle ken, sal bid.
• Plaaslike gemeentes: Dat elke plaaslike gemeente ten minste een keer per week vir 24 uur sal bid. Begin met ‘n aantal ure en vermeerder dit tot 24 uur bereik is. Wanneer een dag volgemaak is, oorweeg dan ‘n tweede dag per week. ‘n Ander moontlikheid is dat plaaslike gemeentes twee of drie blokke van 7 dae van onophoudelike gebed deur die jaar sal neem.
• 24/7 Stadswye gebedswagte: Groepe van 5-7 gemeentes kan ‘n volledige 24/7 gebedswag vorm waarin elke gemeente een dag per week neem om te bid. Dink net wat die impak kan wees indien al die gemeentes in ‘n stad/dorp vir 24 uur bid! Soms kan dit moeilik wees om op ‘n Sondag te bid. In sulke gevalle, neem dan net 6 dae per week.
• Skole/Universiteite: Moedig skole/ universiteite aan om 2 dae per kwartaal vir 12 of 24 uur in ‘n maklik bereikbare kamer te bid. Vrydae en Saterdae is gewoonlik baie maklik vir sulke gebedsgeleenthede. Ouers kan gedurende klastye bid.
• Tronke: Begin soveel moontlik gebedsgroepe in tronke. Probeer om dag-en-nag gebed in tronke te vestig. Probeer minstens een dag per week op hierdie manier met gebed te vul.
Nasionale Dag van Gebed vir die Verkiesing: 20 Maart 2009
Ons stel voor dat daar ‘n Nasionale Dag van Gebed op 20 Maart 2009 gehou word om te bid vir die verkiesing.
Vas: Dat individue, groepe en plaaslike gemeentes ‘n tyd van vas vir 3 dae sal oorweeg: 18-20 Maart 2009.
Gebedsriglyne oor hoe om oor hierdie onderwerpe te bid sal vanaf Januarie 2009 beskikbaar wees op die webwerf www.jwipn.com of u kan ons per epos kontak by elections [at] jwipn [dot] com of telefoon 012-365 3213.
Wêrelddag van Gebed 2009/2010
Voorafgegaan deur 10 dae van nag-en-dag gebed
21-30 Mei 2009 en 31 Mei 2009
13-22 Mei 2010 en 23 Mei 2010
Mobiliseer volledige stede en dorpe vir ‘n dag van gebed en verootmoediging, voorafgegaan deur 10 dae van nag-en-dag gebed. Dit word gesamentlik in baie ander lande wêreldwyd gedoen. Vir meer inligting skakel tel: 021-8563130, of besoek die webwerf: info [at] transformationafrica [dot] com, www.transformationafrica.com
Vra jouself af:
· Waar staan ek met God?
· Is daar enige onbelyde sonde in my lewe?
· Vertroetel ek onvergewensgesindheid en bitterheid in my lewe?
· Is daar enige twyfelagtige aktiwiteite/ gewoontes in my lewe?
· Gehoorsaam ek die Heilige Gees in alles?
· Bely ek Jesus onbeskaamd?
Vra jouself af: Leef ek ‘n lewe van integriteit?
Laat elke Christen so leef om Christus te behaag:
· Moenie omkoopgeld betaal of ontvang nie.
· Betaal jou belasting.
· Moet niemand onreg aandoen nie.
· Hou by die spoedgrens en gehoorsaam verkeersreëls.
· Leef heilig met jou man/vrou. Breek met enige vorm van onsedelikheid.
· Wees goddelike vaders en moeders vir jou/jul kinders.
· Betaal billike salarisse en doen ‘n eerlike dag se werk.
· Moenie negatief praat van die Kerk, regering of land nie.
Barmhartige uitreike
As Kerk van Jesus Christus moet ons Hom sigbaar maak terwyl ons barmhartige uitreike in ons gemeenskap vermeerder.
Vind maniere om die mense in jou gemeenskap te seën. Hier is ‘n paar voorbeelde van wat gedoen kan word:
• Daar is altyd ‘n behoefte aan kos, klere en die fisiese skoonmaak van gemeenskappe.
• Plaaslike gemeentes kan verantwoordelikheid neem vir 20-30 Vigswesies.
• Elke gemeente kan bloot die aantal projekte om die armes en behoeftiges te help, verdubbel of vermenigvuldig.
• Soek skole in jou gemeenskap wat sukkel met matriekresultate en vind maniere om te help (gewillige onderwysers wat ekstra klasse aanbied, voorsiening van toerusting of berading, ens.)
• Gesinne kan individue "aanneem" en help om geskoolde arbeid of verdere opleiding te ontvang.
• Besoek die burgemeester van jou dorp of bevelvoerder van die polisiestasie en vra wat hulle grootste nood is. Oorweeg maniere om die nood prakties aan te spreek.
• Herstel geboue of toerusting waar moontlik (hospitale, polisiestasies, skole, ens.)
• Verskaf dagmoedersentrums vir kinders van werkende moeders, rehabilitasie sentrums vir mense wat berading nodig het of wat met verskillende vorme van verslawing sukkel, of sentrums vir haweloses.
Onthou wanneer ons bid
Ons gebede moet ons geloof in God se beloftes soos in sy Woord weergee.
Ons gebede moet vol hoop wees dat God die sogenaamde onmoontlike kan doen - om sy Kerk te laat herleef, te verander en die land te genees.
Ons gebede vir die Kerk en die land moet ons vertroue in die verlossingskrag van die bloed en die kruis van Jesus verwoord.
Ons gebede moet sonder oordeel, aanklag of veroordeling wees.
Ons gebede moet vanuit ‘n posisie van absolute nederigheid en liefde spruit.
Ons gebede vir die Kerk en die land moet gebaseer wees op die liefde, genade en barmhartigheid van God ons Vader, asook die feit dat Hy Homself met ons wil versoen en wil hê dat sondaars hulle moet bekeer en nie in sonde sterf nie.
Ons gebede moet berouvol wees omdat ons God nie behaag het nie.
Ons gebede vir die land moet gebaseer wees op die feit dat die Heilige Gees die Een is wat van sonde oortuig.
Ons gebede moet eerstens op die eer en verheerliking van God en sy verlossing vir ‘n verlore wêreld fokus, en dan op ons veiligheid, voorspoed en persoonlike behoeftes.
Ons gebede moet gebore word uit ‘n diepe verlange dat God weer erken en verheerlik sal word in ons kerk en land.
Versamel al die mense, die stadsvaders, die kinders, en selfs die babas ... Laat hulle bid, Spaar U volk, Here! ... Dan sal die Here sy volk genadig wees...en antwoord: Kyk! Ek stuur vir julle graan en nuwe wyn en olyfolie, genoeg om al julle behoeftes te bevredig. (Joël 2:15-21)
Vir verdere gebedsriglyne kontak Jerigo Mure by 012-365 3213, of www.jwipn.com;

NIRSA dokument- Christene staan saam as "Stem" by regering
Post new comment